Deel van 'n reeks oor die |
---|
Geskiedenis van Griekeland |
Griekse Bronstydperk |
Egeïes • Helladies • Sikladies • Minoïes • Miceens |
Antieke Griekeland |
Donker eeue • Argaïes • Klassiek • Hellenisties • Romeins |
Middeleeuse Griekeland |
Bisantyns • Frankies en Latyns • Ottomaans |
Moderne Griekeland |
Miceense of Mukeense Griekeland verwys na die laaste fase van die Bronstydperk in Griekeland (omstreeks 1600–1100 v.C.). Die naam kom van die argeologiese terrein Micene (ook Mukene gespel) op die Peloponnesos-skiereiland in Suid-Griekeland. Ander belangrike terreine sluit in Tiryns in Argolis, Pylos in Messenië, Athene in Attika, Thebe en Orchomenos in Boeotië en Iolkos in Thessalië, terwyl Kreta en die terrein van Knossos ook deel van die Miceense wêreld geword het.
Nedersettings wat deur die Miceense beskawing beïnvloed is, het ook hul verskyning gemaak in Epirus,[1][2] Masedonië,[3][4] op eilande in die Egeïese See, aan die kus van Klein-Asië, die Levant,[5] Siprus[6] en Italië.[7]
Die Miceense beskawing het agteruitgegaan met die verval van die Bronstydperk-beskawing in die oostelike Middellandse See-gebied. Dit word toegeskryf aan die veronderstelde Doriese inval, maar ander faktore kon ook ’n rol gespeel het, soos natuurrampe en klimaatsveranderings. Hierdie tydperk is die agtergrond van ’n groot deel van die Antieke Griekse letterkunde en mitologie, onder meer die Trojaanse Epiese Siklus.[8]